Monday, June 22, 2015

SOMER OF WINTER TOER?

“’n Hawe word gebou om veiligheid aan ‘n boot te verskaf, maar ‘n boot word nie gebou om in die hawe te bly nie”.
“Die mens is so geskape dat hy ongerief en pyn gou vergeet, terwyl aangename herinneringe vir ewig bly!”.

Dit is noodsaaklik om enige toer deeglik na te vors en goed ingeligte besluite te neem. Dit is byvoorbeeld absoluut absurd om byvoorbeeld ‘n ski vakansie in die noordelkike halfrond te beplan gedurende hulle somers. Net so is daar oorwegings vir toere in Afrika ook. Smaak verskil en so ook die behoeftes wat jy aan ‘n vakansie stel. Sommige individue verkies die veiligheid en gemak van Hotelle of Kamp Huisies terwyl ander juis avontuur en ‘n bietjie adrenalien najaag. Dan is daar die oorweging van die seisoene en tradisioneel word wildparke in die koeler maande deur die meerderheid verkies. Aan die einde is dit egter die ‘aangename” herrinneringe wat bepalend is.
 
‘n Week se kamp by Khutsi, Sundays Pan en Passarge Pan is reeds agter die rug. Ons skuil nou by Litiahau kamp in Sentraal Kalaharie onder die afdak van die Oz Tent. Die temperatuur is hoog in die veertigs en die die wind se go is ook uitgebrand. Nie Johan Zwiegers of ek praat ‘n woord met mekaar nie. Aan die boom langs die tent hang my plastieksak “stort” en wannneer ons onself genoeg kan motiveer om op te staan dan gaan “koel” jy maar jouself af met die lou warm water in die “stort”. Om alles te kroon, is ons gekoopte drinkwater op en moet ons maar ons dors les met onsmaaklike water wat ons oppad in die ingeboude tenk van die voertuig getap het (einlik net vir opwas doeleindes). Ons is op die rand van moedeloosheid. Oor een ding is ons dit eens. Ons sal nie gou weer in die somer in Sentraal Kalaharie kom ontspan nie. Uitgebrand! Biltong!
 Kwalik ‘n maand later (nadat ons liggaamstemperarture weer “normaal” bereik het), is die gevoel, wonderbaarlik, “daai was nou lekker ons moet definitief weer gaan”! Die hitte vergete. Trouens, soveel so dat ons in November van dieselfde jaar weer in die Kalaharie (Kalaghadi Oorgrens Park) kuier met die son wat weer dooierus op ons vat met temperature diep in die veertigs.
Ons bly aanvanklik by Rooiputs en Polentswa aan die Botswana kant.
Die hitte en beperkte water van die omgewing veroorsaak egter dat ons, in die sweet van ons aangesigte, by watergate en onder koeltebome binne effens meer as ‘n week 36 leeus, nege Jagluiperde, ‘n luiperd, ‘n menigte van roofvoȅls, ratels en jakkalse, wat ons vergas deur jag te maak op kelkiewyne
 
en duiwe, sien. By Mata Mata, koel ons weereens gereeld af deur sommer met klere en al in die swembad in te val. In teenstelling met Botswana is die Kalahari relatief droog gedurende daardie maande. Die feit dat ons eersdaags weer gedurende November in die Kalahari gaan kuier kan ‘n persepsie skep dat die absurde optredes moet beteken dat ons mal is oor die hitte! Verkeerde gevolgtrekking! Die seeninge van die ervarings, fotografiese geleenthede (en selfs die besoeke aan jou kamp! deur groot roofdiere) in die Kalahari gedurende die hoȅ temperature oortref by verre die “bietjie” ongemak van die hitte. Ek sal weer en weer gaan.

‘n Mens besoek nie Botswana in die reenseisoen nie” is die algemene raad wat ons kry, maar op Kersdag  ry ons saam met ons kinders (Solms en Alitha) Botswana binne. Ons ry aan die Weste kant op en gaan deur die Caprivi Botswana weer in die noorde binne. By ons kamp naby Kasane staan modder besmeerde 4X4’s – mense wat vanuit die suide (Moremi en Savuti) tot hier gery het. Ons kry baie raad en word ook (bangmaak)foto’s gewys van wat vir ons voorlê. Dit is die reenseisoen en ons is verseker dat ons gaan vassit, maar ons het die goeie raad gekry om onder sulke omstandighede net nie paniekerig te raak nie, maar om eenvoudig uit te klim jou graaf op te neem en pad te bou. Goeie raad want vassit het ons en die raad het gewerk. Ons ry gly, gly deur ‘n eindelose klomp (soms verbasend diep) poele (wat aldus Alitha) dikwels so onskuldig op die oppervlakte vertoon.Die wereld vanaf Chobe en Savuti tot by Moremi is ‘n ware paradys. Wild is volop en olifante kom wei selfs reg deur ons kamp. ‘n Belewenis. By Savuti dwing die son ons om bykans heel dag in die skaduwee van die groot Kameeldoringboom in die middel van ons kampplek te skuil. Die pragtige groen natuurskoon vergoed die egter by verre vir hitte. En die vassit? Wat ‘n avontuur en storie om oor te vertel!

Gedurende die volgende Julie besoek ons Zimbabwe. Ons verkluim byna by die Matobo kamp. Die toer is verder  deur  Hwangi, deur Chobe (rivier pad) en die Caprivi (Nambwa Kamp) na Etosha. Ons sien baie wild oral en geniet veral beindruk Masuma Dam in Hwangi, terwyl ons Sinamatella Kamp baie geniet. Chobe is altyd ‘n besonderse aantrekking maar hier is die verskil tussen Winter en Somer weidingstoestande is groot. Chobe is neerdrukkend droog en laat ons terug dink aan hoe mooi dit is na die reen. Horshoe Bend op die Kwando rivier naby die Nambwa kamp is wonderlik en Etosha is natuurklik altyd iets besonders.  Ons toer weereens lekker maar die Winter toestand in Chobe bly maar in ons agterkoppe.

Nie lank daarna nie, ry ons weereens op Kersdag, Botswana by die Bray grenspos binne. Dit is Somer en reenseisoen. Ons weet sommer dat dat ons weer baie water gaan raak ry maar weet ook dat dit bydra tot die avontuur – op voorwaarde dat jy daar deur kom. Ons ry ons vas teen ‘n “meer” wat ons pad versper en byna, byna  wil ons saamstem dat “’n mens nie Botswana besoek in die reenseisoen nie”! Ons vind egter ‘n ompad en die avontuur gaan voort! Die veldtoestande is prentjie mooi vanaf Maghoto (Community Campsite) deur Savuti tot by die asemrowende Chobe. Te spyte daarvan dat die wild hierdie keer (as gevolg van die wonderlike veldtoestand effens minder is, het ons wonderlike ervarings. Ons sien by verskeie geleenthede wilde honde, olifante, buffels, leeus (sonder dat daar 100 voetuie om hulle parkeer is) en die”gewone” wild en baie REEN.  Die omgewing is so mooi dat ons ‘n groot blymoedigheid ervaar en die tyd geweldig geniet. Die kersie op die koek is toe, op ons laaste dag, n groot trop buffels, laat middag teen die Chobe rivier af by ons kamp verby gewei kom en ‘n trop wilde honde in die teenoorgestelde rigting die buffels tegemoet gaan. Die “hello” sê is vriendelik kortstondig en elkeen gaan voort in hulle eie rigting. Sal ek weer in die reensseisoen deur Botswana toer. Verseker maar!!!!!
   
In die boek van John Krakauer “Into the Wild” oor die lewe van Chris McCandles skryf hy dat sy laaste woorde, voordat hy eensaam van uitputting en koue omgekom het, was “Geluk is alleenlik moontlik indien dit met iemand anders gedeel kan word”! Dit is my ondervinding dat dit nie saak maak waarheen jy toer en hoe veeleisend of maklik ‘n toer is nie, maar jou reisgenote is absoluut bepalend van die genot van die toer!



No comments:

Post a Comment